Die ideesentrum Opinor vandag bekendgestel

Opinor is vandag in Centurion bekendgestel. Opinor is ’n ideesentrum met werksaamhede wat daarop gerig is om gemeenskappe in Afrika te bemagtig sodat gemeenskappe volhoubaar kan voortbestaan.

“Opinor is opgerig om gemeenskapsgerigte planne, strategieë en beleid te ontwikkel en te bevorder, deur geloofwaardige navorsing en innoverende kommunikasie, wat aangewend kan word om gemeenskapselfstandigheid in Afrika te bevorder. Ons wil deur waardetoevoeging gemeenskappe in staat stel om ’n beduidende verskil op voetsoolvlak te maak,” sê Barend Uys, uitvoerende hoof van Opinor.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum is aangewys as die voorsitter van Opinor se direksie. “Wat Opinor van ander ideesentrums sal onderskei, is dat ons nie bloot bestaan om die stryd om idees te beïnvloed nie. Opinor se kernfunksie sal wees om navorsing te doen wat toegepas kan word deur instellings wat gemeenskappe se belange bevorder en wat hulle met die nodige kennis en insig sal toerus om tot aksie oor te gaan wat tot daadwerklike resultate sal lei. Opinor beoog dus nie om bloot met sy argumente te wen nie, maar om te wen met die aksies wat uit sy argumente gaan spruit,” sê Roets.

Opinor is verbind tot die subsidiariteitsbeginsel, wat erken dat mense van nature sosiale wesens is en klem lê op die belangrikheid van gemeenskapsinstellings soos die gesin, die kerk en vrywilligerorganisasies as strukture wat die individu in staat stel om die gemeenskap te dien en die individu en die gemeenskap as ’n geheel aan mekaar verbind. “Opinor se vertrekpunt is dat mense nie vryswewende individue is nie, maar tot gemeenskappe behoort. ’n Mens se vertrekpunt en onderliggende aannames bepaal die oplossings wat ’n mens kan bedink, en hierdie vertrekpunt gaan ons in staat stel om oplossings te ontwikkel wat binne die werklikhede van Afrika en Suid-Afrika toegepas kan word,” sê Uys.

Opinor vul die leemte van ’n ideesentrum wat daarop fokus om gemeenskappe in staat te stel om self hul lewensomstandighede te verbeter, in teenstelling met die benadering van ander ideesentrums wat hoofsaaklik deur die beïnvloeding van regeringsbeleid ’n verskil probeer maak. Besoek www.opinor.org.

Die ideesentrum Opinor vandag bekendgestel

Similar Posts

Skryf 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *